Home   Hoofstuk 1   Aankope   Nuus   Weblinks   Kontak
Home You are here: Home Hoofstuk 1
Hoofstuk 1 PDF Afdruk E-pos

Gees van die Labrador deur Makkie de Beer

Opgedra aan die boeremense van die Riemland en almal van ons wat 'n sterk verlange voel vir die meer eenvoudige lewe op 'n plaas.

2011 © Kameeldoring Boeke | www.kameeldoringboeke.co.za
ISBN | 978-0-9870164-1-6

Deel 1: Voorbrand

"Before El Alamein we never had a victory. After El Alamein, we never had a defeat."

- Winston Churchill

Hoofstuk 1: Noord-Afrika

Gert van Tonder staan by die dekreling van die troepeskip wat verlede nag in Durban se hawe vasgemeer het. Die lug hang swaar oor die stad en daar is 'n skerperige oliereuk wat hy tevore al iewers geruik het. Hy dink terug aan daardie dag, skaars vyf maande gelede toe hy en sy beste vriend Jan Breedt, ook so by die reling gestaan het. Die onbekende het voor hulle uitgestrek soos 'n kronkelende plaaspad deur die Riemland. Hulle was op pad Noorde toe om daar te gaan veg vir Volk en Vaderland, soos die aanhangers van die oorlog dit genoem het. Hulle was terselfdertyd skrikkerig en opgewonde oor wat vir hulle voorlê.

Gert en Jan het saam grootgeword: Jan op Uitzicht en Gert op Driefontein. Hulle is op die twee buurplase gebore en van vroeg af al was daar ’n hegte vriendskap tussen die twee seuns en hulle gesinne. Gert het gegroei tot ’n stewige sesvoet lang jong man met donkerbruin hare en grys oë en op 15 Februarie 1943 sou hy een-en-twintig jaar oud word. Sy vriend Jan, was ’n skraal ligtekop met blou oë, net 'n rapsie jonger as Gert.

Na skool het hulle saam op die Spoorweë in Pretoria gewerk. Die oorlog het aan die einde van hulle matriekjaar op 4 Augustus 1939 uitgebreek. Nie een van hulle was van plan om oorlog toe te gaan na skool nie. Van hulle “SAP” vriende het aangesluit en oorsee gaan veg. Gert en Jan was albei gelukkig by die Spoorweë en die dae het vinnig verbygevlieg. Hulle voorman meneer Verster het gedurig aan hulle gekarring om by die Leër aan te sluit. Hy het te vertelle gehad hoe interessant dit daar ver oor die see sou wees, ook dat hulle lande soos Italië en Frankryk sou sien. Volgens hom was dit 'n geleentheid wat hulle nooit weer sou kry nie. Maar die twee boesemvriende het nie kans gesien om hulle bejaarde ouers agter te laat en die vreemde in te vaar nie.

Mettertyd het die druk op die twee jong manne het al hoe erger geword. Agteraf is gefluister dat die manne wat nie uit eie wil aansluit en die Rooi Eed neem nie, afgedank sou word. Daar was alreeds sprake van twee “Nattes” wat plek moes maak vir die “Smuts-mense”.

Daar was geen genade nie. Die twee is uiteindelik plaas toe om met hulle ouers te praat en te hoor wat hulle dink. Daardie naweek was daar diep hartseer op die twee buurplase. Hulle ouers was huiwerig om namens hulle te besluit, maar het belowe om vir hulle te bid. Terug by die werk het die voorman hulle  openlik begin dreig dat hulle ander werk moes soek as hulle nie by die Weermag wou aansluit nie. Kort voor lank was hulle op pad na die Weermag se kantoor om die nodige vorms in te vul en aan te sluit.

Pas nadat hulle aangesluit het, is hulle verplig om die Rooi Eed af te lê. Uniforms is aan hulle uitgereik en op die skouers was daar die verpeste rooi lussies wat bewys het dat hulle bereid was om dwarsoor Afrika vir die Engelse te gaan veg. Hulle het nie die blou eed afgelê nie, daarvolgens sou hulle na Italië en Frankryk gestuur kon word.

Hulle het elkeen verlof en ’n vrypas gekry om hulle families te gaan groet. Die passasierstrein waarmee hulle Rietfontein toe gery het, het vieruur die oggend op die stasie aangekom. Digte mis het die laagte by die rivier bedek. Dit was nie ver om plaas toe te stap nie. Hulle het hulle rugsakke oor hulle skouers gegooi en koers gekry met die kronkelende voetpaadjie die veld in.

 

Die nat gras het vet doudruppels op hulle blink militêre stewels gemors. Voëltjies het ewe vrolik iewers in die donker bome getjirp. Die houtbruggie wat die twee bure self oor die rivier opgerig het, het liggies onder hulle voete gewikkel. Hoe Wagter, Gert se Labrador, geweet het sy baas kom huis toe, sou niemand ooit weet nie. Hulle het net ’n paar treë gevorder toe hy blaffende na sy baas toe aangehardloop gekom het. “Waggie, oubaas se honne, is jy bly om my te sien?” Wagter het Gert se hand gelek en amper van die houtbruggie afgeval soos hy sy stert geswaai het. Hy het opgewonde om hulle rond gehardloop totdat hy met ’n kort blaffie vooruit gedraf het om die blye nuus aan te kondig.

Net oor die rivier, het  die paadjie links uitgedraai na Uitzicht toe. Die twee het gegroet en in stilte van mekaar af weggestap, elkeen na sy eie huis en elkeen met 'n warboel van eie gedagtes. 'n Moeilike taak het op die twee manne gewag om die nuus aan hulle ouers oor te dra. Onwelkome nuus waarvoor die oumense bang was.

Die Saterdagmiddag het die twee gesinne bymekaargekom. Waar dit in die verlede vrolik en opgewek was, wou dinge maar net nie vlot nie. Daar was 'n stramheid en gesprekke het vinnig doodgeloop. Die hartseer en bekommernis het vlak in die oumense se gemoedere gelê en hulle het gewonder wat die toekoms vir die twee jong mans inhou.

Dit was ’n droewige afskeid. Met trane in hulle oë, het die oumense hulle seuns die Maandagoggend by die stasie gegroet. Niemand het geweet of hulle mekaar in hierdie lewe weer sou sien nie. Vier eensame ouers en Wagter het op die perron agtergebly lank nadat die trein om die koppie verdwyn het. Hulle het geluister na die laaste fluit van die stoomtrein en probeer kyk of hulle dalk die rook agter die koppie kon sien uitkom.

In Pretoria is hulle na Robertshoogte geneem, om ingedeel te word by die volgende groep wat front toe moes gaan. Na ‘n paar dae van reëlings en “inklaar” is hulle per trein Durban toe geneem. Die skip het reeds gewag om die troepe langs die Ooskus, Noord-Afrika toe te vervoer.

Die eerste stop was Dar-es-Salaam, waar hulle vermaak is deur inboorling kinders wat muntstukke uitgeduik het wat van die skip af gegooi is. Van daar af het hulle in 'n konvooi gevaar en almal  is aangesê om op die uitkyk te wees vir duikbote. Hulle het deur die Suezkanaal tot by Port Said, verby die groen delta van die Nylrivier tot binne in die Middellandse See gevaar.

Na meer as ’n week het hulle in Alexandrië aangekom. Alexandrië is 'n ou stad met nou straatjies pragtige klipgeboue. Hulle kon nie help om te wonder watter geheime hier verlore gegaan het na die vernietiging van die ou biblioteek nie. Egipte was nou hulle oorsee. Die “oorsee” van meneer Verster, hulle voormalige voorman van die S.A.S. & H. Die hawe self was maar vuil met allerhande gemors wat tussen die skeepsolie rondgedryf het.

In Alexandrië het hulle regtig vir die eerste keer die Egiptenare met hulle lang wit rokke en kopdoeke gesien. Hulle het hulle verbaas bekyk (en die Egiptenare vir hulle), want dit was nie iets wat dikwels in Suid-Afrika gesien is nie. Destyds het selfs die Oosterse nasies in Suid-Afrika (veral die mans) meer Westers aangetrek. Die taal, kultuur, kos en reuk van die stad was vir hulle vreemd. Hulle was amper bly om op die rammelkastrein te klim wat hulle die 100 km tot by die deurgangskamp na El Alamein sou neem.

Hulle eerste indrukke van die woestynlandskap was nie baie aangenaam gewees nie. Die helder son wat weerkaats op die eindelose sand en klipvlaktes was rof op hulle oë. Met niks om te sien nie behalwe sandvlaktes, het die meeste van hulle begin nes skrop. Elkeen met sy eie gedagtes teen die eentonige agtergrond van die klik-klak op die spore. Die rowwe geskommel om die draaie, het kort-kort hulle dagdrome onderbreek. Dowwe stemme, sigaretrook en die helder skynsel van die woestynson het met hulle malende gedagtes ingemeng.

Die gevreesde naam van Erwin Rommel is dikwels genoem en die ouer hande het na hom verwys as die “Woestynvos”. Hy was 'n geslepe tenkspesialis wat menige oorwinnings teen 'n oormag behaal het. In sy pogings om by die strategiese Suezkanaal uit te kom is hy vir die eerste keer daar by El Alamein gestuit. Dit was 'n paar weke tevore aan die begin van Julie maand. Meer onlangs het die Afrikakorps van Rommel verder suid probeer deurbreek, maar hy is by Bab El Qattara gestuit. Hulle moes juis oor 'n paar dae met die Al Betrol of “Springbokpad” van El Alamein in die rigting van Bab El Qattara ry! Skielik het hulle die gevoel begin kry dat die “Woestynvos” vir hulle loer.

 

Die deurgangskamp was net buite die stowwerige kusdorpie El Alamein, [dit beteken glo in Arabies “twee vlae”]. Die Arabiere spreek dit El A-la-my-nie uit. Weerskante van die dorpie was daar sulke salpeteragtige binnelandse mere, wat dit moeilik gemaak het om by die werklike strand uit te kom. Sommige van die mere is deurgegrawe na die see toe, met keerwalle wat dien as 'n tipe hawe vir kleiner seilbootjies, wat hulle “dhows” noem.

Die soldate se voorlopige tuiste was een van duisende tente wat sommer op die sand langs die treinspoor opgeslaan is. Dit was 'n tentstad met genommerde strate en verskillende afdelings wat hulle sommer dorpe genoem het. Die Riemlanders het saam met 'n groep Natallers in “Mooirivier” tuisgegaan. Die “dorp” langs hulle was “Dundee by the Sea”.

Die nuwelinge het nog probeer planne maak oor hoe hulle moes stap om by die see uit te kom, toe een van die ouer hande in 'n troepedraer klim en gevra of hulle saamkom strand toe. Hulle het vinnig agtergekom dat daar bitter min kontrole was oor enige van die militêre uitrusting. Petrol, voertuie, ammunisie selfs kos was vrylik beskikbaar en elke dag het dosyne skepe net meer daarvan in die hawe van Alexandrië afgelaai. Van die offisiere (met hulle donkerbrille en al) het met Jeeps op die strand op en af gejaag, asof almal sorgeloos met vakansie was.

Daar was troepe van oral oor die wêreld wat mekaar daar ontmoet het, meestal Engelssprekend maar ook 'n paar Grieke, Franse en Indiërs. Hulle het gelukkig nie veel te doen gekry met die Australiërs nie en het later goed klaargekom met die Nieu-Seelanders. Elke dag is honderde nuwe tente by die deurgangskamp opgeslaan. Soldate van oral oor die wêreld is daar uitgerus met voertuie, petrol, water, ammunisie en rantsoene.

Die dag voor hulle vertrek het front toe,  het die Inligtingsoffisier hulle voorgelig oor wat hulle te wagte kon wees in die woestyn. Hy het vir hulle op 'n groot kaart gewys dat die bottelnek wat gevorm word deur die Middellandse See en die Qattara Vallei van groot belang is. Hierdie Qattara Vallei beslaan 'n area van omtrent 200 vierkante kilometer en is amper 60 km suidwes van El Alamein geleë. Die Qattara Vallei was so diep en onbegaanbaar dat selfs ruspervoertuie nie daar kon deurkom nie.

Volgens die Inligtingsoffisier was die woestyn suid van El Alamein die laaste verdedigbare posisie voor die bewoonde gebiede van Alexandrië, Kaïro en die strategies belangrike Suezkanaal. Hierdie bottelnek was dan ook wat vir Rommel in ’n hoek gedryf het met sy laaste twee aanvalle. Dit was van uiterste belang dat Rommel en sy Afrikakorps nie by die  Suezkanaal moes uitkom nie.

Hulle vakansie was van korte duur het Jan die volgende oggend na ontbyt gesê. Die vragmotors is reeds die vorige aand gelaai en hulle het net hulle persoonlike uitrusting en vuurwapens gelaai voordat hulle by 'n Nieu-Seelandse konvooi aangesluit het. Daardie oggend was daar 'n lang ry splinternuwe Amerikaanse tenks wat langs die pad na El Alamein gestaan het. Volgens die “oumanne” sou die Shermantenks baie beter gewees het as die vorige modelle wat baie gou in die woestyn toestande oorverhit het. By die T-aansluiting waar hulle afgedraai het op die Al Betrol-pad was dit so besig dat 'n lid van die Militêre Polisie moes help om die verkeer te beheer. Enige iets van tenks tot donkiekarretjies wou daar verby.

Slegs 'n entjie uit die dorp aan die linkerkant, het hulle op 'n reuse pantserkamp afgekom. Rye en rye van die nuwe tenks het daar onder kamoefleernette gestaan en wag om op te ruk na die front toe. Jan en Gert het net woordeloos na mekaar gekyk en gewonder oor wat daar in die volgende paar maande op hulle gewag het. Dit het nie lank geneem om die bietjie koelerigheid van die see te verloor nie en daarmee saam het die laaste van die  kameeldoringboompies ook verdwyn. Hierdie pad is ook die Springbokpad genoem en daarom het Jan die area  Springbokvlakte gedoop. Die hitte en verstikkende stof wat om die troepedraers gehang het, het die pad baie langer laat voel as die 20 kilometer na die uitdraaipad. Die Nieu-Seelanders het sommer regs afgedraai in 'n plat stuk klipperige woestyn waar daar eienaardige klipmure tussen die sand uitgesteek het. Verder af met die pad net voor die Ruweisat-duin, was blykbaar die Indiërs se kampterrein.

Die laaste paar kilometer voordat hulle afgedraai het, was daar omtrent konstant vliegtuie wat bo-oor hulle gevlieg het. Dit was blykbaar om die konvooi teen die Luftwaffe te beskerm, maar dit was nie juis gerusstellend nie. Veral nie as die korporaal vir jou vertel hoe die Engelse vliegtuie 'n paar weke gelede die Suid-Afrikaanse stellings aangeval het nie. Menige noodoproepe na die Royal Air Force is net geïgnoreer tot groot ontsteltenis van generaal Dan Pienaar wat gedreig het om dan vir hulle eie veiligheid by die Luftwaffe aan te sluit.

Gert-hulle se konvooi het 'n klein entjie verder met 'n tipe pad na regs afgedraai in die rigting van 'n hoërige duin. Die pad na die kampterrein was omtrent onbegaanbaar, – dit was sandduine op en sandduine af. Nêrens was daar ’n groen boompie wat die landskap ’n bietjie kon verfraai nie. In die laagtetjies het die sand op plekke 'n blougroen skynsel gehad wat 'n mens laat wonder het of daar dalk iewers onder die sand koper neerslae kon wees. Hierdie duin wat eintlik die Miteirya-randjies genoem is, sou vir die volgende paar weke hulle tuiste wees. Langs hierdie pad was ook 'n kamp met honderde van die “nuwe Amerikaanse tenks”, wat sommer oop en bloot geparkeer was. Die verskil was dat hierdie tenks van hout gemaak en geverf was, om net soos die regte tenks te lyk.

Nadat elkeen sy plek in die tentedorp gekry het, is daar water uitgedeel. Elkeen het net een dixie in die oggend en een in die aand gekry. ('n Dixie was ’n plat staalhouer met ’n draad handvatsel aan die een kant.) Met hierdie water moes hulle skeer, was en nog ’n bietjie oorhou om te drink en koffie te maak. Die hitte was ondraaglik, die water so min en vir hulle wat gewoond was aan ’n rivier vol water op Uitzicht en Driefontein, was dit ’n baie groot aanpassing.

In die kamp was daar ook duisende vlieë, hulle moes baie keer hulle kos onder hulle hemde eet as mens boeliebief en klinkers kos kon noem. Streng militêr moes hulle elke oggend op die paradegrond aantree. Vir ’n uur is hulle dan op en af gedril, links-regs links-regs, tot hulle koppe wou bars van die hitte, dan was dit eers teetyd. Die res van die oggend moes hulle loopgrawe grawe en skanse bou tot middagete. As hulle gelukkig was het middagete bestaan uit opgekookte vleis met aartappels en kool. Hulle het baie keer gedink die kokke in die kombuis het die Regiment se slagspreuk “Rough but Ready” meer ter harte geneem as die soldate self. Na middagete kon hulle rus en gewoonlik later die middag wanneer die son agter die randjies ingeskuif het, het die manne een of ander sport, meestal rugby, gespeel.

Elke dag is 'n peloton in 'n ander rigting uitgestuur – meestal om die area rondom die Duitse mynvelde te gaan verken. 'n Groot area wes van die Miteirya-randjies was 'n Duitse mynveld met doringdraad versperrings gewees. Dit het die Engelse bynaam van “Devil's Gardens” gekry, maar die Boertjies het dit sommer die Satan se Tuin genoem. Een oggend vroeg het hulle kontak gemaak met die vyand se spioene. Gert en Jan was saam met die twee Jeeps wat patrollie gery het. Dit was vir albei kante ’n verrassing. Na ’n kort masjiengeweer geveg het die vyand die loop geneem. Gert en sy makkers was maar tog te bly, want hulle was nie voorbereid op ’n groot geveg nie. Die vyand het ongelooflik vinnig verdwyn. Ook maar goed, want die een Jeep waarmee Gert en sy makkers gery het, is deur 'n paar koeëls getref. Hulle moes dit later die middag insleep kamp toe.

Briewe wat hulle huis toe geskryf het, het weke geneem om in die poskantoortjie op Rietfontein aan te kom. Selfde met die pos van die huis af; dit het dikwels weke geneem om by hulle uit te kom. ’n Brief van die huis af, was soos ’n kersgeskenk en dit is honderd keer oor en oor gelees. Die posdiens moes onder moeilike omstandighede funksioneer en almal was tog te bly om nuus van die huis af te ontvang. Ongelukkig was dit nie altyd goeie nuus nie: Jan se pa, oom Stefaans, is oorlede en Jan het eers 'n paar weke na die begrafnis die nuus gekry. Hy het vir Gert die hartseer nuus gaan vertel. Gert het sy ou maat se hand geneem en met trane in sy oë, sy simpatie betuig.

Intussen het gerugte die rondte begin doen dat Rommel moes terugkeer Duitsland toe weens gesondheidsredes. As dit regtig so was, was dit 'n goeie geleentheid om die Afrikakorps aan te val terwyl hulle bevelvoerder weg was. Aan die ander kant was dit moontlik valse propaganda wat kon lei tot 'n onaangename verassing as hy nie regtig weg was nie. Intussen het tonne wapentuig op die front aangekom insluitende dosyne kanonne en vragte ammunisie. Die Geallieerde Magte het beslis reg gemaak vir 'n reuse offensief om die Duitsers in Afrika die finale nekslag toe te dien. Generaal Montgomery is aangestel as  opperbevelhebber van die  woestynmagte.

Die oggend van 23 Oktober 1942, was net soos enige ander oggend in die Saharawoestyn van Egipte, behalwe dat ontbyt twee ure later bedien sou word en dat almal daardie dag later kon slaap. Die reuk van die son wat op die seil van hulle tent gebak het, sou hulle altyd kan onthou. Van laat slaap was daar nie juis sprake nie, want almal het  agtergekom dat iets aan die broei was. Dit was die eerste dag van Operation Lightfoot, 'n dag wat niemand ooit sou vergeet nie. Na 'n onrustige dag van allerhande voorbereidings en beplanning, het die son daardie aand 'n onheilspellende oranje skynsel oor die woestyn uitgesprei. Horlosies is gesinkroniseer en in die laaste bietjie lig van die skemer is soldate en voertuie vir die aanval geposisioneer.

Presies om 20 minute voor tien daardie aand het honderde kanonne agter hulle  losgetrek en begin skiet. Die eerste kanonkoeëls het  net duskant die doringdrade van die “Satan se Tuin” ontplof en skielik was dit 'n baie gepaste naam. Die 25-ponders op die flanke het geklink soos swaar weer oor die Witteberge en die blitse was soos dié van 'n geweldige donderstorm wat woed.

Elke 15 minute is die kanonne se visiere aangepas en dan het die bomme sowat 100 treë nader aan die Duitse stellings ontplof. Dit het die infanterie toegelaat om onder die dekking van kanonvuur nader te beweeg. Dit was belangrik om nie oorhaastig te raak nie want dan kan van eie kanonvuur eiemagte tref soos wat met 'n groepie Nieu-Seelanders gebeur het. Na 'n paar uur was die “Satan se Tuin” goed omgeploeg deur die artillerie en het die Geniekorps begin om landmyne te lig om so gou moontlik 'n pad deur die mynveld oop te maak.

In daardie stadium het die Duitse kanonne met alle mag losgebars en op die area net anderkant die mynveld gemik. Baie van hulle was gelukkig alreeds op die kant of net binne in die mynveld om die Genietroepe te ondersteun. Van die tenks en ander pantser voertuie was reeds 'n paar honderd treë met die skoongemaakte paadjie die mynveld in en op die voorpunt van die aanval. Indien die tenks kon deurbreek sou hulle die Duitse stellings van agter af kon aanval.

Ongelukkig het van die ondersteuningsvoertuie te gou nader gekom en die Duitse artillerie het toe oral van die voertuie begin raakgeskiet. Die volgende oomblik het een van die ammunisie trokke ontplof en 'n brandstof tenkwa aan die brand gesteek. Dit het die Suid-Afrikaners in hulle spore gestuit, want die hele area waar hulle probeer het om deur te breek, was toe helder verlig. Die vyandelike kanonvuur was onverbiddelik en baie akkurater as tevore. Hulle het gemaai onder die  ondersteuningsvoertuie en hulle tenks was vasgepen in die “Satan se Tuin”.

Die nuwe soldate het onder geweldige masjiengeweervuur nader gekruip. Daar was verwoesting, dooies, verminktes en gewondes het oral rond gelê. Gert en Jan het agter 'n stukkie hoërige grond gelê vanwaar hulle teruggeskiet het op die masjiengeweernes. Die Duitse artillerie het begin om op die tenks in die mynveld aan te lê. Na 'n rukkie is die voorste tenk uitgeskiet en was die pad deur die mynveld versper. Jan het nog opgemerk dat hulle turf nou sit en vir ure daarna het die skietery aangegaan.

’n Kanonkoeël het ’n paar treë voor Gert-hulle ontplof en skrapnel het Jan in sy gesig getref. Dit het ’n gat in sy voorkop geruk, maar hy het nog gelewe. Gert het hom onder sy arms opgetel en na veiligheid begin sleep. Hulle broekspype en bene is aan repe geskeur deur die stukke doringdraad wat oral in die mynveld gelê het. Met ’n gebed in sy hart, het hy sy maat voortgesleep en as hy hom net by die ambulans kon kry sou hulle hom kon red.

Met sy asem wat brand in sy keel en Jan se liggaam wat al hoe slapper begin word, het Gert gevoel hy kon huil. ’n Ander soldaat het Gert kom help en Jan se voete opgetel sodat hulle vinniger kon vorder. Hulle oë het net vir 'n oomblik ontmoet, maar Gert het nie die asem gehad om dankie te sê nie. Die toe bewustelose Jan, het baie bloed verloor maar die ambulans was net ’n paar treë weg. Verpleërs het met ’n draagbaar uit die tent aangehardloop gekom om die laaste entjie te help.

Ongelukkig was dit te laat. Jan het sy oë met moeite oopgemaak en vir Gert gevra om asseblief na sy ma op die plaas om te sien. Sy kop het skeef geval en sy laaste asem het in die warm woestynlug en oorlogsrumoer verdwyn. Met sy gestorwe maat se hand in syne, het Gert gebid dat die Here hom moes spaar, sodat hy Jan se laaste wens kon uitvoer.

Die geveg is vroeg die volgende oggend gestaak sodat die Rooikruispersoneel die gewondes en dooies kon verwyder. Die slag was bloedig aan albei kante. Die bevel het gekom dat alle soldate moes terugtrek. Gert het Jan se persoonlike goedjies uit sy sak uitgehaal. Daar was nog ’n brief wat sy ma vir hom geskryf het. Dit was baie hartseer. Gert het Jan se lyk gemerk sodat hy kon weet waar hy begrawe sou word. Daar in die rooi woestynsand, ver van Uitzicht af, het Jan sy laaste rusplek gekry.

Die volgende aand is 'n nuwe aanval geloods en byna elke dag of nag daarna het die Geallieerde Magte alles in die stryd gewerp om die Spil-moondhede se verdediging te breek. Met elke aanval het die Duitsers later begin skiet en minder ammunisie gebruik as die vorige keer. 'n Duidelike teken dat hulle logistieke ondersteuning nie kon bybly nie. Na 'n week se gevegte het hulle berig ontvang dat Rommel weer die bevel van die Afrikakorps oorgeneem het. Teen daardie tyd het die gevegte dag en nag aangehou en die artillerie het nooit ophou vuur nie. 'n Duisend kanonne het dag en nag die Duitse stellings gebombardeer en “Satan se Tuin” vir hom sooi vir sooi omgespit en natgelei met mensebloed.

Hulle het met verbasing die eerste krygsgevangenes afgevoer en toe eers besef dat hulle daar teen Italianers geveg het. Teen die einde van die slag was daar honderde van hierdie Italianers wat sommer na hulle toe aangeloop gekom het. Blykbaar het die Duitsers met hulle onttrekking al die brandstof en die water saam met hulle geneem en die Italianers net so in die woestyn agtergelaat. Baie van hulle was afkomstig uit Boulogne in Italië. Die “drukgang” van El Alamein was net een te veel vir die Woestynvos en hy het teenstrydig met Hitler se bevele, die aftog geblaas.

El Alamein, kon net sowel die vlag van Montgomery aan die een kant en Rommel aan die ander kant gewees het. Hierdie tweede Slag van El Alamein sal in die geskiedenis van die Tweede Wêreldoorlog onthou word as een van die bloedigste gevegte in Egipte. Dit het 12 dae geneem om Rommel en sy Afrikakorps hier 'n deurslaggewende bloedneus te gee wat gelei het tot hulle  onttrekking uit Noord-Afrika. ’n Gedenkteken is opgerig ter nagedagtenis van die Suid-Afrikaanse soldate wat daar gesneuwel het.

Oorlog is aaklig, aan albei kante was daar manne wat hulle lewens opgeoffer het. “Vir wat?” het Gert in sy gedagtes gewonder. Nadat Gert toegesien het dat Jan se besonderhede hoofkwartier kon bereik, het hy vier weke verlof aangevra. Wonder bo wonder is dit aan hom en baie van sy kamerade toegestaan. Die reëlings vir sy terugkeer na Suid-Afrika is vinnig getref. Dit het meer as ’n week geneem om per skip na Durban te reis. Die skip het die vorige aand buite die hawe anker gegooi. Die dag breek in die Ooste. Die golwe rol reëlmatig aan na die strand toe en die liggies weerkaats op die onrustige water.

**********

Gert moet sy hande doelbewus afhaal van die reling af omdat hy dit so styf vasgeklem het. Sy vingers voel stram as hy hulle oop en toe maak. Hier waar hy teen die reling staan, dink hy aan daardie ander oggend toe hy en Jan ook so by die reling gestaan het, op pad na die Noorde toe. Dit voel nou soos jare gelede wat hulle hier weg is en min het hy daardie môre geweet dat hy alleen sou terugkom huistoe. Sy hande klem weer styf om die koue reling van die skip. Hoe moet hy alleen op die plaas aankom? Wat moet hy vir tant Maria sê? Hoe moet hy verduidelik dat hy niks kon doen om haar lieflingseun vir haar lewend terug te bring nie. Net 'n pakkie met sy persoonlike goedjies en haar laaste brief – is dit al wat van Jan se lewe oorgebly het? By 734 ander families in Suid-Afrika het soortgelyke pakkies aangekom van almal wat gesneuwel het by El Alamein.

-----------------------------------------------------------------------

Baie dankie vir u belangstelling in my storietjie. Die boek word binne die volgende paar dae gepubliseer en dan kan u die res van die storie lees.

Besoek asseblief my webblad by www.geesvandielabrador.co.za.

 

Daar sal ook skakels beskikbaar wees op Kameeldoring Boeke om te wys waar u die boek kan koop.

Vriendelike groete,

Makkie

bloggerdeliciousdigg
 
   
 
Download Area
Show Cart
Your Cart is currently empty.

Login Form



 

This website is protected by copyright and trademark laws under R.S.A and International law.
All Rights Reserved © 2010 Stimela Publishers - Site designed & maintained by
Just this Once

Top